top of page

Andy Selfe - bewaring is in sy bloed

Andy Selfe - bewaring is in sy bloed

16 November, 2024

ANNE KRUGER, GST korrespondent - Hoe die Alwyn Vintcent, ‘n historiese stoom-sleepboot, by Villiersdorp in die binneland beland is, is ‘n uitsonderlike storie. Die man wat die verplasing van die boot inisieer het, is Andy Selfe (73) of van Grabouw, ‘n man met ‘n liefde vir masjinerie van alle soorte: hoe ouer hoe beter.


"Die regmaak van ou masjiene het al op skool begin waar ek en ‘n vriend ‘n herstelspan geloods het gemaak Make & Break in ons koshuis. Ons het grassnyers herstel en ‘n gereedskapskuur gebou. Tydens my nasionale diens by Tempe was dit dieselfde. Ek het daarna motor-ingenieurswese bestudeer in Londen en vir ses jaar daar gewerk."


Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1976 het hy en ‘n ander vriend huise begin opknap, maar sy liefde vir ingenieuswese het die opperhand gekry en hy het ‘n winkel in Grabouw geopen wat onderdele vir landboumasjinerie verkoop het. Toe, in 1999, is hy erg gebyt deur die bewaringsgogga en het begin om ou stilstaande enjins te versamel en herstel. Sy artikels en foto’s van hierdie bewaringswerk het verskyn in ‘n Britse tydskrif, Stationary Engine.


Dit was in hierdie tyd dat Andy die mense van Sandstone Heritage Trust in die oostelike Vrystaat naby Ficksburg leer ken het. Hulle huisves ‘n besondere versameling stoomtreine, trekkers, enjins, militêre voertuie en baie meer. Hy was veral geïnteresseerd in die militêre voertuie en het ‘n Suid-Afrikaans ontwerpte en geboude Marmon Herrington Mk4 vir hulle gerestoureer.


‘n Trotse Andy aan die werk aan die restourasie van die historiese Mostert se Meul in Kaapstad.
‘n Trotse Andy aan die werk aan die restourasie van die historiese Mostert se Meul in Kaapstad.

"Die versameling en restourasie van masjinerie wat die enjins aangedryf het, sluit in pompe, kragopwekkers, sae, allerhande dinge insluitend meulens. Toe ek genooi is op ‘n toer van Compagnes Drift in Botrivier in 2006 kan jy verstaan hoe ek belang gestel het in die ou watermeul wat aangepas is om te werk as ‘n enjin (nou saliger) toe daar geen water was nie. Ek het die eienaars gevra of ek dit kon restoureer, wat gelei het tot vier jaar van Saterdae, openbare vakansiedae en heelwat tussenin. Ons laat hom omtrent een maal per maand loop om plaas-personeel op te lei om dit te doen as ek nie beskikbaar is nie."


Sy kundigheid het wyd bekend geword in daardie tyd, en hy is versoek om te help met probleme by die La Motte watermeul in Franschhoek, en daarna die bekende historiese Mostert se meul in Kaapstad, wat opgradering benodig het na sy restourasie in 1995. Die meul dateer uit 1796 en is die enigste oorblywende volledige windmeul in Afrika wat meel uit koring produseer.


ree

Die restourasie van Mostert se meul is in fases afgehandel afhangend van dringendheid, met periodes van meulwerk tussenin om besoekers te lok en inkomste te verdien. Sy in-diepte navorsing oor die bou van meulens het goed te pas gekom.


Verslae van die werk het verskyn in die Journal of the International Molinological Society waarvan Andy die enigste Suid-Afrikaanse lid is, asook in die tydskrif van die Society for the Protection of Ancient Buildings (SPAB) in Engeland.


Die finale opgradering van Mostert se meul, wat verskeie maande geduur het, was pas voltooi die middag van 17 April 2001, die dag voordat ‘n veldbrand hulle getref het. Van die meul het slegs die mure oorgebly. Die dak, al die houtwerk en die seile is vernietig.


"Slegs ‘n gloeiende stomp het oorgebly," onthou Andy.


Hy voeg egter trots by: "Eintlik kry jou niks meer volhoubaar as meulenary nie."


Intussen het Andy verskeie enjins en ander implemente versamel en ‘n lid geword van die Wes-Kaapse Trekker en Enjin Klub. Hy het beoog om ‘n museum te open vir sy versameling toe hy hoor dat die Villiersdorp-tak van die klub so ‘n museum aan die bou was. Hy het besluit om sy kragte by hierdie inisiatief te voeg: "Hïer was ‘n groep wat ‘n projek kon aanpak, toutjies trek, geld insamel en dinge gedoen kry!"


Verskeie fondsinsamelings en veilings is gehou. Die museum is gebou en gevul met die trekkers van die lede met ruimte vir enjins. Toe hulle hoor van ‘n groot Crossley enjin in Caledon wat vernietig sou word, is ‘n reddingsaksie aangepak, dit is uitmekaargehaal en die lede het die stukke opgelaai: ‘n regte klubprojek!


Andy, wat altyd ‘n oor op die grond hou, het gehoor van die historiese stoom-sleepboot Alwyn Vintcent, die laaste oorblywende skoomskip in Suid-Afrika, wat vir skroot verkoop sou word. Sy is in Venesië gebou in 1957 vir die SA Spoorweë en Hawens en het gedien in die hawe van Mosselbaai vir 24 jaar met die sleep van bootjies na en van posskepe wat te groot was vir die hawe. Haar langer argterdek was ontwerp om passasiers tussen skepe te vervoer in ‘n mandjie wanneer Union-Castle se posskepe ingeloer het.


Die skip is vernoem na ‘n vorige voorsitter van die hawe se adviesraad. Sy is gesleep van Europa na Kaapstad en het aangekom in Kaapstad in Mei 2959 maar is van daar na Mosselbaai. In 1983 is sy afgetree en geskuif na Kaapstad waar sy tot in 1994 toeriste in Tafelbaai vervoer het.


Uiteindelik was die hawefooie te duur en is daar oorweeg om haar vir skroot te verkoop. Die Sandstone Heritage Trust het ‘n noodkreet op hul webwerf gepubliseer dat minstens die enjins gered moet word en Andy het ‘n vergadering aan boord bygewoon in 2011.


"Teenwoordig was mense uit die swaarvervoer-bedryf, en Stephen Bentley, V&A hawekaptein. Iemand stel toe voor die hele skip moet bewaar word. Maar wie kon so ‘n groot projek hanteer?"


Andy het die Villierdor- klub voorgestel en voorsitter Eniel Viljoen net daar gebel en vertel dat ‘n "see-trekker" gered moes word. Klublede wou graag help. ‘n Rowwe kwotasie het aangedui dit sou R500 000 kos om dit te skuif.


"Johannes Uys van MME, wat ook teenwoordig was, het gesê hy sal die hyswerk gratis doen. Steven Bentley het gesê hy sal die hawegelde kwytskeld, en so is ‘n plan gebore," sê Andy.


Die Villiersdorp klub het die Alwyn Vintcent aangekoop en die volgende jaar die pypwerk op die bostruktuur afgesaag tot dekvlak. Die voertuig is (gratis) op die synchrolift opgelig.


Toe kom die Groot Trek! Die skip is vervoer van Kaapstad na Villiersdorp op ‘n platbak-sleepwa, ‘n reis van 400 km. Die reis was omtrent vier maal langer as die normale afstand weens die hoogte van die vrag op die 88-wiel treiler wat 47m lank was insluitend die trek- en stoot-voertuie.


Oor vier dat het ‘n klein groep lede die skip op sy ompad-roete via Vredenburg, Riebeek-Wes, Riebeek Kasteel, Hermon, Gouda, Wolseley, Worcester tot in Villiersdorp uit die noorde vergesel. Die optog was omtrent ‘n spektakel en die konvooi is langs die pad deur toeskouers begroet.


Daar was ‘n groot fanfare op die dag dat die voertuig in die hoofstraat van Villiersdorp aangekom het, vergesel van ‘n horde ou trekkers, veteraanmotors en ‘n skare mense. Selfs die kerkklokke het gelui vir die geleentheid!


In Villiersdorp sou die tuig verdere restourasie ondergaan, maar die vraag was waar om hom uit te stal? ‘n Geleentheid het opgeduik toe ‘n verlate huis aan die suidelike punt van die dorp op die mark kom. Die eiendom is gekoop en oor die volgende paar jaar opgeknap as ‘n kuierplek, restaurant en plaasstal.


Planne is vertraag toe Covid toeslaan maar na die herstel is besluit om die skip te skuif tot langs die Alwyn Vintcent plaasstal. Fondamente is gelê met pilare wat herwin is van die tenkplaas in Milnerton. Massiewe stukke beton is vervoer na Villiersdorp en gelê in slote gegrawe deur die klublede.


Johannes het woord gehou en die hyswerk gratis gedoen. Dit het dae en nagte se werk geëis met die massiewe hidrouliese hysers wat die romp van die skip gelig het om ‘n treiler daaronder te plaas, dit dan te lig om die treiler te verwyder en dit dan neer te laat op die regte hoogte en hoek. Daarna is die bostruktuur neergelaat, gevolg deur die skoorsteen. Die skip het sy finale rusplek gekry in April 2024.


"Daar is nog ontsettend baie om te doen: sweis, terugplaas van pype, verfwerk. Die plan is om dit intern aan te pas vir akkommodasie, en die dek te gebruik as verhoog vir konserte; daar is vele idees. Ek twyfel of die enjin ooit weer op stoom sal loop maar dit sal wonderlik wees indien dit weer kan draai: of met saamgeperste lug of met ‘n stadige elektriese motor."


Was dit nie vir hierdie ondernemende inisiatief nie, sou die Alwyn Vintcent, die laaste stoomskip op die SA skeepsregister, lankal geskrap gewees het. Nou is dit ‘n opvallende trekpleister vir Villiersdorp toerisme.


"Dis ‘n wonderlike voorbeeld van die bewaring van die skeepsgeskiedenis en om die erfenis van stoomkragvaartuie lewend te hou," sê ‘n tevrede Andy, reeds op die uitkyk vir sy volgende bewaringsprojek...


Die romp van die Alwyn Vintcent onderweg na Villiersdorp  op ‘n platbak-treiler. Foto: Die Burger
Die romp van die Alwyn Vintcent onderweg na Villiersdorp op ‘n platbak-treiler. Foto: Die Burger
Die ondernemende Andy Selfe het ‘n groot rol gespeel in die bewaring van die sleepboot Alwyn Vintcent wat ‘n toeriste-trekpleister op Villiersdorp geword het.
Die ondernemende Andy Selfe het ‘n groot rol gespeel in die bewaring van die sleepboot Alwyn Vintcent wat ‘n toeriste-trekpleister op Villiersdorp geword het.

bottom of page