Beste braaivleis in Suid-Afrika?
- Mark van Eyssen

- Apr 24
- 2 min read
Updated: Aug 21
Mark van Eyssen, GST Assessor - Ek het die voorreg gehad om die Adara Palmiet Valley Boetiek-hotel vir volhoubare toerisme te assesseer. Dit is geleë in Sonstraalweg in die Klein Drakenstein gebied van Paarl.
Ek het op ‘n Sondagmiddag aangemeld voor die volgende dag se assessering.
Die Hotel, geleë op ‘n werkende vrugte- en wyn-plaas, verwelkom gaste met ‘n pragtige tuin en ryk groen grasperke omsoom deur die restaurant en gaste-akkommodasiegeboue in Kaaps-Hollandse styl. Die restaurant is geleë in die oorspronklike Jakaranda herehuis wat dateer uit 1754.

Ek het ‘n verfrissende laatmiddag swem geniet en omstreeks 19:00 by die restaurant opgedaag vir aandete. Die baie vriendelik gasvrou het my ingelig dat die restaurant Sondae ‘n tradisionele braai aanbied.
Ek het my jeugjare in die Paarl deurgebring, maar my vorige ondervinding van ‘n braai is totaal in die skadu gestel deur wat aangebied. Ons het vark, hoender, biefstuk, lamstjops en vis geniet as keuse of op sy eie ... aangebied met ‘n slaai of twee en braaibroodjies (met kaas, tamatie en uie).

Ek het aangesit by ‘n tafel met ‘n uitsig oor die braai-meester, Cullen, en sy vuur. Die voorgereg was ‘n mandjie tuisgemaakte brood met plaasbotter en ‘n heerlike romerige pâté.
Dit was die begin van ‘n kulinêre ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie. Die broodmandjie is gevolg deur 5 tapas met uiteenlopende geure en smake. My gunsteling was die bief carpaccio wat smaakknoppies geprikkel het waarvan ek nooit geweet het nie!
Nou vir die hoofgereg: sirloin en koedoe-medaljons met ‘n sampioensous en ‘n puik snit lamslende met ‘n heerlike rooiwynsous. Dit was perfek gaargemaak, medium soos versoek. Die smaak van die boerewors het my verwar: verwar in die sin dat ek nog nooit sulke puik wors geproe het nie!

Die keuse van vars slaaie en groente was meer as genoeg as ‘n mens in ag neem wat alles aangebied is.
Op hierdie stadium was ek ‘n bietjie oorweldig deur die ondervinding en die kwaliteit van al die geregte.. en dan lê die nagereg nog voor! Ek gesels oor my jongste avontuur met die braai-meester wat my inlig dat die bonsai-garnaalsosatie en kabeljou nog geniet kan word aan die einde van my reis.
Nagereg is bedien en ek het net een van die drie gekies... die bevrore amarula zabaglione. Dit was die perfekte afronding vir die beste braai-ondervinding wat ek nog ooit die voorreg gehad het om te geniet.
Kontak my by mark@markvaneyssen.co.za as jy iets soortgelyk of moontlik nog beter geniet het... Besoek www.adara-palmiet-valley.co.za vir die Sondag braaispyskaart en ander aanbiedings, insluitend 5-ster akkommodasie.




Comments