Volhoubare Toerisme in Globale Perspektief: Deel 1
- Johan Hattingh
- Jul 14, 2025
- 5 min read
deur Prof Johan Hattingh, Emeritus Professor in Filosofie, Universiteit van Stellenbosch
HOE MAAK jy van volhoubare toerisme teen die agtergrond van volhoubare ontwikkeling, en wat het jou aanvanklik laat dink dit is ‘n goeie idee? Hoe het jy begin om volhoubare toerisme te implementer? Wat was die grootste uitdagings en struikelblokke wat jy teëgekom het, en hoe het jy dit oorkom (of nie)? Wat was die resultate van jou pogings tot dusver? Hoe lyk volhoubaarheid nou binne GST? Hoe sien jy die pad vorentoe, veral met klimaatsverandering wat lyk of dit ‘n groot probleem gaan word?

Dit is die 6 vrae wat GST verlede jaar in ‘n meningsopname onder sy stigterslede gevra het, en daar was nie alleen merkwaardige response in hulle eie reg nie, maar ook response wat op ‘n merkwaardige manier ressoneer met baanbrekende globale perspektiewe op volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme.
In 'n reeks van vier artikels word enkele van hierdie response uitgelig, toegelig, en in verband bring met denke wat op die voorpunt staan van omgewingsetiek, en hoe ons volhoudbare ontwikkeling en volhoubare toerisme kan benader.
In die eerste artikel gaan dit oor volhoubare ontwikkeling en toerisme as proses, en meer spesifiek, ‘n proses van geesterverruiming. In die tweede artikel gaan dit oor volhoubare ontwikkeling en toerisme as ‘n proses van samewerking; en in die derde een oor volhoubare ontwikkeling en toerisme as nie net een groot oorkoepelende ding wat orals dieselfde is nie, maar eerder ‘n stel uitdagings wat op verskillende plekke verskillende uitdagings aan ons stel en verskillende antwoorde vereis. In die vierdie artikel gaan dit oor volhoubare ontwikkeling en toerisme en die uitdaging van klimaatsverandering.
Volhoubare ontwikkeling en toerisme as ‘n voortgaande proses van geestesverruiming
Dit klink half vreemd om volhoubare ontwikkeling en toerisme in die eerste plek te sien as ‘n proses van geestesverruiming, want kom ontwikkeling en toerisme nie eerder neer op materiële goed soos beleggings en wins en die voorsiening van akkommodasie en elektrisiteit, en voedsel en water en opwindende ervarings nie? Alles konkreet, tasbaar, meetbaar.
Heeltemaal reg. Maar niks hiervan sou ooit tot stand gekom het, het een van die respondente gesê, as ek gebly het by dinge soos dit gedoen is toe ek ‘n kind was nie. In sy eie woorde gestel:
" Ek is van mening dat meeste van die ou boere grondmense was, maar dikwels met min werklike respek vir hul grond. En dis ook deel van my kindertydse agtergrond. Plaas-herinneringe en sentimente was altyd daar, maar kultuur, bewaring en volhoubaarheid? Nee. Almal wou mos net stad-toe vir ‘n beter en geriefliker lewe en wegkom vanaf die platteland. Ek wonder dikwels of dit nie tipies van meeste vorige plaasjapies was nie, ek ook."
Hiervandaan het dinge in die afgelope dekades vinnig en ver verskuif. Die term "volhoubaarheid" is nou op almal se lippe, plaasboere het begin grade kry, en nou is die meeste van hulle bewaarders van grond en kultuur, en gebruik hulle grond om vir stadsjapies bekend te stel aan die plaaslewe.
Dit het moontlik geword deur 'n kopverskuiwing, het een van die respondente aangedui:
"... vele dinge wat ons armoedig ervaar het, soos om op ‘n hooimied te slaap deur die Desember vakansies, of om akkers op te tel en appelkose te pluk, word nou ten duurste aangekoop deur toeriste vanaf die stedelike gebiede om te ervaar. Nou is so-iets, en ander dinge van eenvoud, eksklusief."
En mooier kan dit nie saamgevat word as in die volgende woorde nie: "... ek moes ook eers ‘grootword’ om te besef ek het eintlik in ‘n paradys opgegroei."
Nou kyk ek op 'n ander manier, my kop het gedraai, ek sien dinge nou anders.
Die Noorweegse omgewingsfilosoof Arne Naess (1912-2009) het hierdie verskuiwing as een van die belangrikste elemente van sy Diep Ekologie gesien: die verruiming van die Self wat so algaande meer volwasse word, en die klein eiesinnige, selfsugtige (kinderlike?) self agterlaat.
In hierdie breër perspektief sien die Self hom/haar as deel van, en deelnemer aan die groter bestaans-web wat ons bestaan as mense, gesinne, groepe, kontreie, streke moontlik maak, waarvan ons bestaan afhanklik is, en waarmee ons noodlot verbonde is.
Dit is 'n ekologiese perspektief wat verbande en wisselwerking en interaksies beklemtoon en respekteer, en die insig vir ons bring dat die wel-wees van die ekologie waarin ons bestaan ingeweef is met ons eie wel-wees as mense.
Beskadig en vernietig ons hierdie ekologie, die omgewing en die natuur en kultuur, dan beskadig en vernietig ons onsself. Bewaar en bevorder ons dit, bewaar en bevorder ons onsself.
Aldo Leopold (1887-1948), die invloedryke Amerikaanse bewaringsekoloog en etikus het die grondslag gelê vir hier ekologiese perspektief met sy siening dat ons gewone burgers is van die "gemeenskap van lewe" (van die "community of life", in Engels gestel).
Ons maak 'n groot fout, het Leopold gesê, as ons dink ons het die grond waarop ons woon verower en kan daaroor heers asof dit 'n blote besitting is. Ons maak 'n groot fout as ons enigste verhouding tot die grond ekonomies van aard is, as ons dit net sien as 'n grondstof vir benutting en 'n wins maak.
Die rigting waarin Leopold ons koppe wil draai, is om te sien dat grond (fisiese grond, maar ook water en riviere en grasvelde en berge) 'n lewende en lewegewende geheel is, 'n gemeenskap van lewe, wat deur ons aksies en interaksies ontwrig en beskadig en vernietig kan word.
Waarvoor Leopold pleit is dat ons onself anders as voorheen posisioneer in die gemeenskap van lewe, nie primêr as veroweraar en bestuurder net ter wille van wins nie, maar as gewone deelnemer aan en burger van die gemeenskap van lewe, wat saamwerk daarmee en nie daarteen nie.
Sowel Naess as Leopold erken dat ons moet eet en leef, en dat ekonomiese aktiwiteit noodsaaklik is. Maar hulle daag ons uit om ons ekonomie op 'n ander grondslag te plaas as voorheen: om dit te bedryf sodat dit ekologiese verhoudinge, wisselwerkings en interaksies bevorder wat, in die groter prentjie gesien, die Lewe self bevorder, en ons as mense daarmee saam.
Om so te floreer het Naess hom beywer vir 'n soort eenwording met hierdie breër Lewe. Leopold het dit in poëtiese taal uitgedruk dat ons moet begin om te dink soos die berge: om dinge vanuit 'n radikaal langtermyn perspektief te sien.
Vanuit hierdie perspektief is volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme, as ekonomiese aktiwiteite wat dit sekerlik moet wees, alleenlik moontlik as 'n proses van voortdurende geestesverruiming: 'n proses waarin ons leer om meer en meer te verstaan van die ekologiese verhoudinge en interaksies waarin ons lewens, alle lewe, ingeweef is, en wat ons kan doen om hierdie lewegewende verhoudinge en interaksies te bewaar, te bevorder, te versterk en te laat voortbestaan.
Anders gestel: alles verander as ons begin dink soos 'n berg, of 'n vlakte, of 'n rivier, of 'n bos, of 'n kuslyn, of 'n kaalwangarend, of 'n kreef.
Die vraag is of ons koppe ruim genoeg is om dít te kan begin dink en stadig maar seker, teen 'n pas wat ons kliënte en die samelewing kan hanteer, in te weef in hoe ons volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme doen?




Comments