top of page

Volhoubare Toerisme in Globale Perspektief: Deel 2

  • Johan Hattingh
  • Jul 14
  • 4 min read

Volhoubare ontwikkeling en toerisme as 'n proses van samewerking


deur Prof Johan Hattingh, Emeritus Professor in Filosofie, Universiteit van Stellenbosch


In 1987 het die Verenigde Nasies volhoubare ontwikkeling gedefiniëer as ontwikkeling waardeur ons die behoeftes van hedendaagse mense bevredig, sonder om die vermoë van toekomstige geslagte om in hulle behoeftes te voorsien, te ondermyn.

ree

Dit is 'n sterk definisie wat ons in die hede uitdaag om verder te dink as net ons eie behoeftes, en seker te maak dat toekomstige geslagte ook kan leef en floreer. Maar so gestel, is dit ook 'n vae definisie wat uiteindelik enige iets vir enige iemand kan beteken, vanaf 'n landsowerheid tot 'n besigheid tot 'n enkellopende individu.


As 'n konsep so breed en vaag geword het dat almal die vir hulleself kan toe-eien, en dit moeilik geword het om enige iemand of instansie te kry wat nie "volhoubaar ontwikkel" nie, kom die vraag na vore wat ons moet doen om "volhoubare ontwikkeling" weer die kritiese konsep te maak wat dit in die 1980s was.


'n Deel van die antwoord lê daarin om 'n paar eenvoudige vrae te stel wat vir ons kan help om te onderskei tussen ontwikkeling wat ons graag sal wil volhou, en "ontwikkeling" wat ons liewers moet stop, of moet uitfaseer.


Die eerste vraag is sekerlik: Wat is so belangrik dat ons graag daarmee sal wil volhou die toekoms in? Tweedens: Waarom is hierdie "iets" so belangrik? Derdens: Ter wille van wie of wat doen ons hierdie "iets"? Vierdens: Op watter soort kennis steun ons om dit te doen? Gebruik ons net die wetenskap en tegnologie, soos eksperts en vakspesialiste dit vir ons ontsluit? Of maak ons ook gebruik van ervaringskennis, oorgelewerde kennis, plaaslike kennis, en inheemse kennis? En hoe kombineer ons kombineer ons hierdie verskillende vorme van kennis? En vyfdens: hoe weet ons dat ons oor tyd nader beweeg het aan volhoubare ontwikkeling en toerisme, of agteruit geboer het daarmee?


As ons eerlik antwoord op hierdie vrae dan gaan ons sekerlik verskillende antwoorde gee, afhangende van die plek en die omstandighede waarin ons staan. Dan gaan ons sekerlik vind dat ons anderkant die breë en algemene definisies van volhoubare ontwikkeling en toerisme, anderkant die veralgemenings en gemeenplase daaroor, by verskillende konkrete praktyke uitkom.


Presies dit het uit die opname verlede jaar oor volhoubare ontwikkeling en toerisme na vore gekom: volhoubare ontwikkeling en toerisme is nie net een groot ding wat orals dieselfde is nie.


In die Franschhoek Vallei behels dit in die besonderhede iets anders as in die Sederberge, of dit wat op 'n dorpserf in Sandbaai langs die kus gedoen kan word.


Op die een plek kom volhoubare ontwikkeling daarop neer om die oorgelewerde kennis van ons onmiddellike voorvaders te respekteer, voort te sit en uit te bou. Op 'n ander plek moet ons presies die omgekeerde doen deur af te leer, of selfs om te keer, wat ons onmiddellike voorvaders gedoen het.


Op die een plek kom dit daarop neer om nuwe werkers in te bring om nuwe goed met nuwe vereistes te begin doen. Op 'n ander plek kom dit daarop neer om nuwe werksgeleenthede te skep vir eksperts in inheemse kennis en praktyke om hulle tradisies en kultuur en stories en taal wat oor geslagte tot stand gekom het, te deel met ander kulture, en so nuwe wisselwerkings en verstaan van die lewe tot stand te bring.


Soos in die vorige artikel genoem, praat Arne Naess, die Noorweegse Diep Ekoloog, in hierdie verband van plekspesifieke ekologiese wysheid. Hy het die ekologiese wysheid wat 'n betekenisvolle en volhoubare bestaan moontlik maak by sy hut hoog in die sneeubedekte berge in Noorweë Ekologiese Wysheid T genoem. Omdat hy sy berghut Twergastein genoem het, wat in Noorweegs "Anderkant die klippe" beteken.


In die algemeen gestel weet ons dat ons te make het met volhoubare ontwikkeling as ons nie net op ons eie behoeftebevrediging in die hede fokus nie, maar begin om verder te kyk en seker te maak dat ons nasate in die menslike kultuur en in die natuur in hulle behoeftes kan voorsien.


Maar anderkant hierdie breë en algemene definisie moet ons by die harde realiteite uitkom van wat volhoubare ontwikkeling en toerisme in konkrete, materiële terme beteken in die Franschhoekvallei, die Sederberge of Sandbaai.


Dit stel ons oop vir die vraag of ons regtig weet wat Ekologiese Wysheid Franschhoekvallei, of Sederberge, of Sandbaai onderskeidelik is. En of ons regtig al die soorte kennis versamel en bymekaargebring het om dit te weet.


Miskien het ons alreeds 'n begin gemaak, en begin om dinge af te leer, by te leer en nuut te doen soos wat ons meer begin uitvind van mekaar oor dit wat in ons berge en valleie en dorpe en kuslyne betekenisvolle lewe moontlik maak en voortsit, en hoe dit verskil van dit wat betekenisvolle lewe op hierdie verskillende plekke ondermyn of vernietig.


In alle waarskynklikheid lê daar vir ons nog 'n lang pad voor om volhoubare ontwikkeling en toerisme regtig te dóén, maar tog is dit gerusstellend om te weet dat heelwat mense en instansies alreeds op hierdie pad begin stap het.

Comments


Collapsible text is great for longer section titles and descriptions. It gives people access to all the info they need, while keeping your layout clean. Link your text to anything, or set your text box to expand on click. Write your text here...

bottom of page