Volhoubare Toerisme in Globale Perspektief: Deel 4
- Johan Hattingh
- Jul 11
- 3 min read
Updated: Jul 12
Volhoubare Toerisme en Klimaatsverandering
deur Johan Hattingh, Emeritus Professor in Filosofie, Universiteit van Stellenbosch
In die 2024 opname het die respondente aangedui dat hulle kennis neem van klimaatsverandering, en dit fyn sal dophou soos dit ontplooi, maar dat hulle nog nie enige groot impakte daarvan op toeriste of hulle toerismeproduk ervaar het nie.

Soos een respondent dit saamgevat het:
"Ons kan slegs bespiegel oor hoe elemente van klimaatsverandering ons mark- veral oorsese kliënte - kan beïnvloed. Sover ons kan sien, mag dit die getal besoekers dalk verminder, maar ons glo, gebaseer op ons ervaring, dat mense van die Noordelike Halfrond altyd graag na Suid Afrika toe sal wil reis."
Dieselfde realisme spreek uit ‘n ander respons:
"Substansiële klimaatsverandering kan waarskynlik ‘n groot uitwerking op volgehoue ontwikkeling en -toerisme hê. Dusver is die gevolge daarvan in Hermanus en die Wes-Kaap beperk tot hanteerbare onbestendige seisoensverskynsels. Ons het bv. nog nie te kampe gekry met grootskaalse stygende watervlakke of ondraagbare stormweer nie, hoewel daar gespekuleer word dat ons tans die warmste Somerseisoen in dekades beleef.
"Toerisme-syfers onderskryf bogenoemde. Daar was nog geen afname in seisoenale toerisme in hierdie gebied nie; inteendeel, die heersende gevoel is dat veral Europese toerisme steeds toeneem."
Bewus van die groot debatte en voorspellings oor klimaatsverandering was die respondente dit eens dat aanpassing by klimaatsverandering noodsaaklik sal wees wanneer dit hulle direk begin raak.
Daar is egter nog groot onsekerheid oor die aard van die impakte wat klimaatsverandering mag hê, en die tydsraamwerke waarin dit sal plaasvind.
Teen hierdie agtergrond was dit interessant en belangrik om tussen die lyne van die response tekens te sien deurskemer oor klimaatsverandering wat sterk ressoneer met internasionale perspektiewe daaroor.
Eerstens: die besef dat klimaatsverandering ‘n realiteit is; dit is mensgemaak, die gevolg van menslike doene en late; dit is gevaarlik omdat dit volhoubare ontwikkeling, ekonomiese groei, gesondheid, en water- en voedselsekuriteit negatief beïnvloed; en volgens wetenskaplikes vinniger aan die ontplooi is as wat aanvanklik voorspel is.
Tweedens: die insig dat toerisme nie alleen negatief geraak (sal) word deur klimaatsverandering nie, maar ook bydra tot klimaatsverandering. Soos een respondent dit met ‘n sterk kwalifikasie saamgevat het:
"Ons gebruik mos ook dinge soos voertuie en gas-yskaste, maar ons dra nie eintlik by tot klimaatsverandering in ons eie klein voetspoor nie."
Dit is 'n ope vraag of elke klein ekologiese voetspoor in terme van klimaatsverandering negeerbaar is, want dit is juis biljoene klein ekologiese voetspore wat optel na een groot massiewe globale probleem.
Omgekeerd is 'n groot deel van die oplossing vir klimaatsverandering sekerlik dat elkeen van ons op sy eie klein manier iets bydra om minder koolstof-brandstowwe te gebruik, en dit selfs uit te faseer, al gaan dit tyd vat om dit reg te kry. Hoe ook al, elkeen van die biljoene klein bydraes tel ook op na die positiewe kant toe.
Dit bring ons by die derde insig wat tussen die lyne deurskemer: dat klimaatsverandering en onvolhoubare ontwikkeling twee kante is van dieselfde groot probleem. Klimaatsverandering ondermyn volhoubare ontwikkeling, en onvolhoubare ontwikkeling voed en intensiveer klimaatsverandering.
Dit beteken dat klimaatsverandering, soos volhoubare ontwikkeling en toerisme, verskillend sal lyk op verskillende plekke, en daarom 'n plekgebonde ekologiese wysheid sal vereis om by aan te pas in 'n spesifieke streek of kontrei.
Dit beteken ook dat die dinge wat ons doen om volhoubare ontwikkeling en toerisme te bevorder, terselfdertyd gedoen kan word om klimaatsverandering te antisipeer, te verminder, en/of daarby aan te pas.
Die voortgaande geestesverruiming wat nodig is om volhoubare ontwikkeling en toerisme te verseker, is dieselfde soort geestesverruiming wat nodig is om klimaatsverandering te herken en aan te pak.
Dieselfde geld vir die prosesse van samewerking wat benodig word om volhoubare ontwikkeling en toerisme te verseker: dit is moontlik om so saam te werk met ander in die streek dat aksies om volhoubaarheid te verseker, terselfdertyd aksies kan wees om klimaatsverandering te verminder, of daarby aan te pas. In Engels word dit "co-benefits" genoem: dit is soos om twee visse met een net op te skep.
En daarom is dit denkbaar om omgewingsopvoeding vir volhoubare ontwikkeling en toerisme te kombineer met omgewingsopvoeding oor klimaatsverandering. Dit is twee kante van dieselfde munt.
Om dit moontlik te maak sal dit in alle waarskynlikheid nie nodig wees om nuwe toeriste-ervarings te ontwikkel nie. Dit sal in alle waarskynlikheid net nodig wees om in die verhaal rondom bestaande toeriste-ervarings die dimensie van klimaat en klimaatsverandering by te voeg by die dimensies van omgewingbewaring, natuur, kultuur en erfenis wat reeds vertel en gedeel word.
Dan behoort iets so beskeie soos inheemse plante in 'n kontrei of op 'n dorpserf 'n ideale aanknopingspunt te wees vir gesprekke oor klimaatsaanpassing en ekonomiese gebruik van water, en wat mense daarby kan leer oor wat dit kan beteken om jou dors te les, of volhoubaar te leef.




Comments